 |
 |
|
 |
|
 |
 |
|
|
 |
|
Hoop op gunstiger huislenings
Monday, 22 June 2009
Hoop op gunstiger huislenings
Daar is aanduidings in die mark dat banke huislenings meer toeskietlik gaan benader.
So ‘n verandering is reeds lankal nodig aangesien die streng beperkings en nie-amptelike moratoriums wat banke op aansoeke geplaas het beslis die eiendomsmark benadeel het, sê Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep.
“Die banke se benadering in dié opsig is begryplik in die lig van ekonomiese toestande, beslagleggings op eiendom en die ooglopende vereiste omsigtigheid ten opsigte van ‘n groot deel van hulle leningsboek waar verbruikers toenemend onder druk gekom het.
“Gekoppel aan die streng toepassing van die Nasionale Kredietwet het dit al hoe moeiliker geword om verbandlenings te bekom, met moontlik net een uit elke drie aansoeke wat nou goedgekeur word.
“Tito Mboweni, goewerneur van die Reserwebank, het samesprekings met die banke gevoer oor ‘n moontlike verlaging van uitleenkoerse in verhouding met die prima uitleenkoers wat deur die Reserwebank bepaal word. Tradisioneel was die verskil 3,5% maar daar is aanduidings dat mnr Mboweni sou verkies dat die gaping vernou word.
“Of dit gaan gebeur is ‘n ope vraag. Dog alle aanduidings is dat daar ‘n meer toeskietlike benadering ten opsigte van verbandlenings gaan kom – ‘n verandering wat beslis sal meehelp om die sukkelende eiendomsmark ‘n hupstoot te gee.”
Intussen, sê hy, laat dit ook die vraag ontstaan of alternatiewe bronne van huisfinasiering, onderhewig aan streng beheer deur die owerhede, aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel moet word.
“Ek wil nie sê dat die mark aan elke Jan Rap en sy maat oopgestel moet word nie maar daar is geen rede waarom kwalifiserende toetreders nie op ‘n selektiewe grondslag toegelaat moet word om die mark te betree en meer mededinging in die mark te skep nie.
“Die idee is nie om alle voorbehoude oorboord te gooi nie en enige nuwe toetreders tot die mark sal verbruikers sowel as die owerhede moet oortuig dat hulle hul lenings kan rugsteun en dat hulle aktuarieel hulle verpligtinge sal kan nakom.
“Die voordele vir verbruikers sal daarin opgesluit wees dat hulle ‘n groter keuse het, dat daar sterker mededinging in die mark sal wees en dat meer innoverende huisleningspakkette geskep kan word – en dit sal die huisleningsmark in Suid-Afrika drasties verander.”
|
|
|
 |
|
 |
 |
|
 |
South Africa |
Eastern Cape |
Free State |
Garden Route |
Gauteng |
Kwazulu Natal |
Limpopo |
Mpumalanga |
North West |
Northern Cape |
Western Cape
Terms & Conditions in respect of Copyright, Trademarks & Restrictions
© ERA South Africa (Pty) Ltd. All rights reserved.
|