 |
 |
|
 |
|
 |
 |
|
|
 |
|
Befonds Eskom deur vooruitbetaling
Tuesday, 28 July 2009
Befonds Eskom deur vooruitbetaling
Suid-Afrikaanse huiseienaars wat reeds onder groot druk verkeer, word weer eens gevra om hulle hand diep in die sak te steek om Eskom se uitbreidingsplanne te befonds.
Niemand bevraagteken die feit dat die deurlopende voorsiening van krag wat Eskom se multi-miljard rand uitbreidingsprogram hopelik gaan verseker, nodig is nie, maar die las van befondsing kan meer eweredig versprei word en dus verlaag word, sê Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep.
Kotzé het reageer op die jongste verhoging van meer as 31 persent wat deur die Nasionale Elektrisiteitsvoorsieningregulreerder (NERSA) aan Eskom toegestaan is. Die styging volg op die 20% styging verlede jaar en daar word voorspel dat elektrisiteitskoste binne twee of drie jaar gaan verdubbel.
“Daar is talle kwessies wat aangespreek moet word – grootmaatpryse vir die handel en nywerheid is byvoorbeeld laer as pryse vir huishoudelike verbruikers, munisipaliteite voeg geredelik aansienlike premies by die prys, daar is ‘n gebrek aan ‘n oorkoepelende nasionale beleid rakende alternatiewe energie en besparingstoestelle, asook ‘n gebrek aan mededinging in die opwekking en verspreiding van elektrisiteit, om net ‘n paar te noem.
“Die grootste probleem is egter waarskynlik die nie-amptelike ‘kragboikot’ wat munisipaliteite miljarde kos. Elektrisiteitsmeters vir vooruitbetaling van krag kan die oplossing wees. Dis ook glad nie radikaal nie – sulke meters word plaaslik reeds op beperkte skaal gebruik en is lankal reeds ‘n instelling in byvoorbeeld die Verenigde Koninkryk en Amerika.
“Wyer benutting van sulke meters in Suid-Afrika sal twee doele dien: tradisionele wanbetalers sal gedwing word om vooruit vir krag te betaal en dit sal ook ekonomiese benutting van elektrisiteit in die algemeen bevorder deur groter bewustheid van die dag-tot-dag-koste te skep.
“Dis natuurlik ietwat van ‘n politieke turksvy. Die alternatief is egter voortgesette en deurlopende prysverhogings, met gevolglike laer verbruikersbesteding, vertraging van ekonomiese groei en werksverliese.
“Sonder om na ‘n soort kragaktivis te klink – en as ‘n mens die gebrek aan ‘n oorhoofse beleid rakende alternatiewe energiebronne vir ‘n oomblik buite rekening laat – is dit glashelder dat ‘n krimpende getal verbruikers ‘n té groot deel van die las om Eskom se uitbreidingsplanne te befonds, moet dra.
“Dit is ook net so ooglopend dat stygings in pryse meer gematig sal wees as die las meer eweredig onder alle verbruikers versprei word. Dit sou in dié opsig baie prakties wees om aansporings vir vooruit betaalde kragmeters te bied, moontlik deur verskillende prysklasse, belastingtoegewings en ander subsidies in te stel.”
|
|
|
 |
|
 |
 |
|
 |
South Africa |
Eastern Cape |
Free State |
Garden Route |
Gauteng |
Kwazulu Natal |
Limpopo |
Mpumalanga |
North West |
Northern Cape |
Western Cape
Terms & Conditions in respect of Copyright, Trademarks & Restrictions
© ERA South Africa (Pty) Ltd. All rights reserved.
|