 |
 |
|
 |
|
 |
 |
|
|
 |
|
Nuwe huisvoorstelle kommerwekkend
Wednesday, 24 June 2009
Nuwe huisvoorstelle kommerwekkend
Voorstelle oor saamwoonhuise wat pas deur die Stad van Johannesburg gepubliseer is, is kommerwekkend en baan die weg vir moontlike vergrype indien die proses nie behoorlik beheer word nie.
Dit is die mening van Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep, wat daarop wys dat die voorstelle voorsiening daarvoor maak dat die maksimum aantal inwoners in ‘n goedgekeurde saamwoonhuis van vier na tien verhoog word.
Die voorstelle is vervat in konsepbeleid oor saamwooneiendom wat hierdie maand deur die munisipaliteit van Johannesburg gepubliseer is. Die veranderings kan as ‘n model vir ander metros dien.
Die behoefte aan bekostigbare hoë-digtheidsbehuising vir studente en werkers is duidelik, sê Kotzé. Aan die ander kant blyk dit dat daar al hoe meer onwettige saamwoonhuise is wat oënskynlik gepaard gaan met hoër misdaadsyfers, verkeersdruk, stedelike verval, swak sanitasie, bedrywighede deur sogenaamde slum lords, en ander probleme.
“Saamwoning in Johannesburg word reeds deur minstens 13 verskillende stadsbeplanningskemas gereguleer en verskillende prosesse word benut om eenvormigheid ten opsigte van saamwoning te bewerkstellig,” sê hy.
“Sonering 1 vir residensiële gebruik in die meeste van dié stadsbeplanningskemas maak voorsiening vir die oprigting van geboue wat vir gemeenskaplike verblyf benut kan word maar dit maak nie voorsiening vir die benutting van ‘n woonhuis as ‘n saamwooneenheid as ‘n primêre reg nie en die voorstelle wys daarop dat daar duidelik ‘n behoefte bestaan om saamwoonhuise beter te reguleer.
‘Die voorgestelde oogmerk is om die besluitnemingsproses waartydens aansoeke beoordeel en gefinaliseer word, te verbeter. Dit dek op sy beurt weer aspekte soos gehoor aan die Wet op Behuising en Wet op Verhuring van Behuising; standaarde waaraan saamwoonhuise moet voldoen; verskaffing van veilige, bekostigbare en ‘n verskeidenheid behuising in ooreenstemming met die Nasionale Bouregulasies; verskaffing van bestuurstrategieë vir alle persele wat as saamwooneenhede benut word; en die omskrywing van en aansoekproses vir saamwoonhuise.
“Daar is weer eens geen fout te vind hiermee nie. Ek het ook nie probleme met jaarlikse boetes ter waarde van 7,5% van die waarde van ‘n betrokke eiendom indien daar nie aan regulasies gehoor gegee word nie,” sê Kotzé
“Maar soos gewoonlik skuil die duiwel in die detail en my vraag is hoe dit toegepas gaan word. Ek staan beslis nie ‘n soort van ‘gemeenskapspolisie’ voor nie maar daar sal duidelik geen oortreding van die nuwe regulasies geduld kan word nie – anders kan ‘n situasie ontstaan waar daar min respek vir regsprosesse is, soos in die reeds problematiese insameling van munisipale belasting, en dit kan dus tot vergrype lei.”
|
|
|
 |
|
 |
 |
|
 |
South Africa |
Eastern Cape |
Free State |
Garden Route |
Gauteng |
Kwazulu Natal |
Limpopo |
Mpumalanga |
North West |
Northern Cape |
Western Cape
Terms & Conditions in respect of Copyright, Trademarks & Restrictions
© ERA South Africa (Pty) Ltd. All rights reserved.
|